ARE YOU READY FOR THE CLASH?

BUY YOUR TICKETS ONLINE!

TICKET SALES

Cheetahman sterf skielik aan sy hart

Posted on Thursday, 06 Aug 2020

Cheetahman sterf skielik aan sy hart

Volksblad - Marita Herselman


Die Vrystaatse rugbygemeenskap treur oor die dood van een die grootste en mees geliefde Cheetah-ondersteuners.

Hulde stroom in vir Jakes Jacobs (59) van Bloemfontein, wat altyd by Cheetah-wedstryde ’n bekende gesig was, van sy kroontjie tot sy toontjie in sy span se kleure bedek en met ’n wapperende vlag in die hand.

Jacobs is Maandag omstreeks 22:00 aan ’n hartaanval oorlede.

In reaksie op Facebook-plasings deur onder andere Cheetahs Rugby en FreeState Cheetahs Supporters and Rugby deel talle mense hul herinneringe aan Jacobs en foto’s wat saam met hom geneem is.

Sy boesemvriend, Honiball Marais, wat altyd aan sy sy by wedstryde was, is in 2016 op 52-jarige ouderdom oorlede. Hulle was 21 jaar lank vriende.

Ene Bert Homself skryf op Facebook dat albei “groot manne” nou weg is.

“Nou kan Honiball en Jakes saam Cheetah games in die hemel kyk.”

Frik Badenhorst sê Jacobs se dood laat ’n leemte op die pawiljoen, maar hy vul ’n belangrike ruimte in God se Koninkryk.

“Staan op aandag! Alle Cheetah-ondersteuners – daar gaan

’n grote verby. Ons sal hom nooit weer sien nie, maar altyd onthou!” skryf Piet Hefer.

Elize Jacobs, sy vrou van 37 jaar, sê hy was die afgelope twee weke so te sê bedlêend en het baie pyn ervaar. Hy het sowat nege jaar lank aan prostaatkanker gely.

Sy sê hulle was besig met toetse om vas te stel of die kanker versprei het en hy sou nog vir ’n MRI-skandering gaan.

Jacobs het Maandag by hul huis inmekaargesak en is tot op ’n stoel gehelp. Hy het gesê hy kry nie asem nie.

Elize vermoed toe die ambulanspersoneel daar aankom, het hy reeds die hartaanval gehad.

As daar ’n Cheetah-wedstryd was, was hy en Marais daar, selfs by wegwedstryde, vertel sy.

“My huis is net rugby teen die mure. Hy het goed laat raam, dit was sy lewe.”

Elize sê hy was absoluut sportmal en het self aan verskeie sportsoorte soos stoei en vlugbal deelgeneem, en ook sport afgerig.

Sy sal hom vir sy vriendelikheid en spontaneïteit onthou – vir sy medemens het hy ekstra moeite gedoen.

“Hy was altyd ’n mense-mens, nie iemand wat kwaad geraak en baklei het nie.”

Jacobs was ’n stafsersant wat volgende April ná 30 jaar in die weermag aftree. Hy was ook lid van die motorfietsklub Thee Crow mcc.

Jacobs word oorleef deur onder andere sy kinders, Yolandé Diedericks, Leticia Helm en Dana Jacobs, hul eggenote, Eben Helm, Hein Diedericks en Monique Smuts, en vyf kleinkinders.

Die egpaar se seun Jacques is reeds oorlede.

Die diens sal voorlopig Saterdagmiddag 15 Augustus in die Ou Apostoliese Kerk by die militêre basis Tempe gehou word. Dit sal na verwagting ook via Zoom uitgesaai word.

Casper van der Merwe, jarelange vriend en self ’n rugbyfanatikus, sal hom vir sy rugbykennis en goedhartigheid onthou.

“Niemand kon van ’n Cheetah sleg praat nie,

hy het hulle altyd net daar en dan tereggewys.

“Dit is soos om ’n rugby-legende af te staan, dis presies wat dit is.”

Die Vrystaat Rugbyunie (VRU) het ook sy medelye met sy familie betuig en is hartseer om so ’n groot ondersteuner te verloor. Hy word as een van die Cheetahs se grootste en lojaalste ondersteuners beskryf.

“Saam met sy oorlede vriend, Honiball Marais, het hulle onder ander ondersteuners en op TV bekend geraak as die ‘vlag-ooms’,” sê Ronel Pienaar, VRU-woordvoerder.

“Selfs nadat sy vriend oorlede is, het Jacobs skaars ’n wedstryd in die Toyota-stadion misgeloop en as die Cheetahs handtekeninge in die stad uitgedeel het, was hy daar – in sy kleurvolle gewaad.”

Share this article: